Sunday, March 29, 2009

bederf

afgelope naweek se bederf...

...ons hang liggies in ons sitkamer en kombuis van Sisonke Creations,

...ek raak die trotse eienaar van 4 nuwe Winsor en Newton olieverf-kleure,
alizarin crimson, prussian blue, renaissance gold en indian yellow...

...ek kry eindelik tyd om luilekker my boek van die oomblik te beleef...
'The secret scripture' deur Sebastian Barry

Maandagaand kry ons die kans om die bederf aan te gee in die vorm van
groenboontjie bredie met oond-groente, aan geliefdes...

Om bederf te voel of om iemand anders te bederf ... beide raak jou glimlag aan...

Sunday, March 15, 2009

Woordfees: Joan Hambidge


“Vuurwiel” die nuutste digbundel van Joan Hambidge word bekendgestel. Dit is haar 22ste digbundel!


Die digbundel vertrek met die volgende:

What kind of beast would turn its life into words?” Andrienne Rich

Poets alone should kiss and tell Dorothy Parker


Tydens die uur van gesprek reen daar (weereens!) ‘n duisternis betekenisvolle woorde en gedagtes in en om ons…

Van ‘die konfrontasie met die kontradiksies in jouself’… ‘die skryfproses amper ‘n tipe 3de figuur in my verhoudings’… ‘die palindroom – ‘n tipe spieelteks – wat begin op ‘n sekere plek en eindig met ‘n teenstelling’… ‘die onbewuste van jouself word geskep deur jou verhoudinge en ervaringe met ander’… tot ‘n ‘kop eerste ingaan in jou delikate dele –gestroop van sekerheid’ wat ek vir myself neem as ‘n tipe onvoorwaardelike uitleef van jou passie.


Joan vertel hoe belangrik skryf vir haar is… ‘soos blare waaruit ons suurstof kry

Woordfees: Hennie Aucamp gehuldig


Hennie Aucamp - "Vir 'n Voyeur De La Vie is die ganse lewe onwettige teater"

Belewenisse van belee jare se omgang met woorde... tydens die Woordfees, op 'n Dinsdag aand in die teenwoordigheid van 'n woordkunstenaar wat na 75jr so gemaklik omgang vind met dit waarvoor hy sy lewe lank passievol lief was... woorde!
Andries Visagie, Amanda Strydom en Hennie Aucamp self bied 'n voelvlug oor 'n meester, 'n woord en klank kunstenaar by uitstek, se 75 jaar.

Verskeie woorde word gebruik om iets te probeer vasvang van hierdie oorbluffend veelsydige taalmens... en om in die middel van 'n duisternis van beskrywende woorde te wees en dan agterna daarvan te probeer sin uitmaak... wel, hierdie luisteraar kan net sinsnedes hiervan weergee:

Sy taal-liefhebberye...
Sy uitmuntende taal en stylbeheer...
Wyd en suid word antwoord gegee op wat hy doen...
Jaloerse bewaarder van beskaafde waardes...
'n Dekadente skoonheids ideaal...
Aweregse belangstelling in moraliteit...
Kaberet = 'beskaafde protes'

Hennie Aucamp verwys ook na die 'ongebruikte self'... word bewus van daardie 'ongebruikte self' in jou en begin om dit te ontdek en te besing vir wat dit wil wees.
"Die besef van verganklikheid is die grootste enkel kreatiewe stimilus" Amanda Strydom

Saturday, March 14, 2009

'n Besige interseksie van kuns in my kop!

My kop voel 'n voetganger in die middel van 'n besige interseksie van kuns! Soveel hoofpaaie wat in die kwessie van 'n week my pad kruis. Soveel indrukke. Hopenlik kan ek deur 'n paar inskrywings hier probeer sin maak uit die verkeersknoop in my kop.

voorliefde, bespiegel, insisiatief, fynproewer, in limbo, terugblik, ligdans, vertelkuns, vermaak, patos, pikante, oulap, versugting, droom, tydsgees, boekeblaaie, kragtoer, drentel, salig, memoires, kwinkslae, kleurig, erns, fynslyper, toenterjare... woorde as agter-versiersel van 'n verhoog by die Woordfees

Hierdie woorde bring iets van die belewenisse van passie na die oppervlak.

Monday, March 09, 2009

Audrey Blignaut


Hennie Aucamp, Marie Heese, Amanda Botha

Beleef 'n wonderlike Woordfees beskouing van Audrey Blignaut se lewe... die geheimenisse van 'n lewe...
Die 3 aanbieders, Hennie Aucamp (vriend van Audrey), Marie Heese (Audrey se dogter) en Amanda Botha (40jr lange vriendin van Audrey)... gee 'n baie interesante weergawe van die lewe van Audrey Blignaut...
Net soos in die briewe van Audrey Blignaut wat onlangs verskyn het, "Blywende Vreugde", word die leser/luisteraar gekonfronteer met interesante, verrassende vertellings ... verskye nuwe perspektiewe op 'n skrywer... wat ons dog ons 'ken'...

Saturday, March 07, 2009

Snikheet!

Die hitte wat ons die afgelope tyd in die Kaap beleef laat my onwillekeurig dink aan 'n gedig van Riana Scheepers:

Springbok
Hier's niks. Maar dis mooi.
die wind waai 41 grade Celsius
in my bikini ry ek
deur die hel
in my bikini van skroei-oranje
deur die hel
komkommerkoel