Monday, May 09, 2011

ons rit na Betty se baai




Statiese geel konfetti blommetjies langs die pad... Branders maak moeiteloos kragtoertjies... Rooi-bruine, geel, oranje, pienke, vuur gevang in klip! Droe protea'skaduwees teen gebrande berghange. Net voor Rooi Els word die klippe langs die pad gestroop van kleur - witgrys. "Van die vreemste goed het jy sin gemaak" sing Lize op die CD in die motor.
Na Rooi Els is daar vlaktes fynbos wat groen-geel blink as die son daarop skyn... andersins le^ hul koel en klam die vallei vol.
Pringlebaai wink regs maar ons hou reguit aan.
"Journeys end" 'n blyplek net langs John the Potter se^ dan nou ook hoe dit vir ons is...
John the Potter se warm gekleurde potgebak verwelkom ons en salig muse ons tussen donker smeulende rooie, goud en purper...
My oe trek spontaan op skrefies vir die grys-glinsterblink see as ons oor die berg kom terug by Rooi Els verby.
Die berge op die pad geyk majestueus elegant gevou tot teen die see... die pad wat ons volg net 'n kielie aan hul voet...
'n Toevallige seemeeu hang soos 'n kindertekening in die wind.
Golwe skuim en breek uit in 'n fynsproeier oor groot rotse.
Dan 'n stukkie gladde seesand met branders wat uithardloop asof deel van die groot kat familie opppad na 'n prooi...
Lize sing van die genade water in die Karoo en ek verstaan van 'n ander plek se waterseen...