Tuesday, April 27, 2010

Kunste Karoo...I







Evette Weyers beelde

Dou voor dag ry ons uit die Kaap… ons het net 4 dae by die fees… dié een ingetel. Net voor Barrydale sit ons op die bakkie se afslaankap met koffie, broodjies en hard gekookte eiers en uitkyk oor die plattelandse oggend landskap…

Net voor Oudtshoorn wag Strijdom van der Merwe se landkuns ons in… oral langs die pad is rooi figure besig om teen wit lere uit te klim. Die leer as simbool van sukses… mik hoog… inspanning is altyd nodig om nuwe hoogtes te bereik.

‘n Uur of 2 later sit ons in ons 1ste vertoning… Klopjag saammet Dana Snyman het pas verskyn… die droë ys rook marmerpatrone in die teaterligte… Dana se stories vol eerlikheid en giggel… voer ons mee…van sy geboortedorp, Danielskuil …deur ons land tot in Namibië…

Die middag durf ons die kunsmark aan… mense staan in lang rye… ongewoon… ons moet R40 betaal om die sg. “Rivierbuurt” te betree…ons voel ongelukkig… maar die reël is gemaak en ons is dáár…
Binne is die voorspelbaarheid groot… tog maak Braam van Wyk oomblikke spesiaal toe hy ons met die hand groet. Sy etswerk, saammet sy gesels, soos altyd ‘n inspirasie…
‘n Geselsie en aankope by die Wildflower mense maak ons kreatiwiteitslus nog meer…

Moeg… na ‘n Oudtshoorn-warm dag kuier ons die aand saammet familie en die lag en gesels rank tot laatnag…

Na ‘n lekker nagrus is ons reg om te gaan kuns kyk... aan die begin van Baron van Reede gesels Doris Brand van die Cape Palette gallery( www.capepalette.co.za) in George vriendelik met ons oor hul uitstalling hier by die KKNK. ‘n Hele paar pragtige protea skilderye van haarself duik oral op.

Evette Weyers se beelde werk is weereens daar en steeds laat sy jou glimlag met haar speelsheid tussen woorde en kleibeelde

Oomblikke in die Prince Vincent kunskafee… omring deur landskapfotos vol emosie. Die passievolle gesels van die fotograaf, Ian van Straaten (www.ianvanstraaten.com) vul ‘n goeie halfuur langs ons tafel. Sy bemarker, Nicky Enslin, seën ons met heerlike appeltert versier met room en granaatpitte…uit die hoogste rak!

Tuesday, April 20, 2010

Ryno Swart se "Camilla"
Herfs

Hoe kon ek weet dat hierdie herfs
in my sou kom knop soos die lente
met die verlange na oopgaan in my toekeel
en trane agter die lede van my oe
- in die gety wat toelaat dat mens die son aankyk -
terwyl ek stap onder die bome se triomfboe
en weet ek is verslaan deur die liefde.

O, liefste, liefste, jy het al my seisoene aangetas,
in die rooiste herfsblaar 'n bloeisel ingepas.

Lina Spies