Wednesday, March 31, 2010

Weskus ervaring..


… nou die dag in Laaiplek kuier ons die oggend in die Pharos kafee…
oral is daar tekens van ‘n liefde vir woorde… ‘n boekrak met van die nuutste publikasies… oa Plaasmoord van Karin Brynard (waaraan ek op die oomblik lees)… ‘n hele paar publikasies van “Die Kakkerlak”, ‘n wonderlike publikasie vir boek- en woordmense... ook ‘n hele paar uitgawes van die Boeke-Insig…

Op die onderste vlak van ‘n lae kuiertafel sien ek die Rapport se boeke-deel uitsteek… Hier vind ek… ‘n onderhoud met Fanie Olivier oor sy bundel, “Apostroof”, ‘n aangrypende kort vertelling deur Welma Odendaal en nog baie ander lusmaker-artikels… Louise van die Pharos kafee is so vriendelik om dit vir my te gee vir later se volledig lees!

Ons besluit om uit te ry Paternoster se kant toe.

Oppad … plaas opstal geboue wat oopstaan… die Uitkomsboerdery… vol aktiwiteit… beeste met koppe wat herinner aan Nicolene Swanepoel kunswerke. Die bewolkheid en die monotoon kleur maak ‘n Niel Jonker atmosfeer…
Op ‘n pasgekoopte CD sing Laurika… “…vir ons ‘n kaalvoetsong met woorde soos die sand en kommas soos die klippies wat my kaalvoetsole brand”

Bay Watch Villa se goudgeel bord gaan regs verby… en vertel ons is amper in Paternoster…

In “Oep-vi-Koep” ruik die mans na stadsparfuum…

…buite sing 5 kindertjies vir ons ‘n sonskyn liedjie oor Paternoster en terwyl ons ‘n geldjie soek… trek hul weg met Vader Jakob… oomblikke vol mooi …

Onder by ‘On the Rocks’ wegneemetes is ons nr5… en moet ons wag tot die getalle by 30 gaan draai om weer by 1 te begin… Ons eet gulsig aan die snoek en slaptjips toe ons beurt kom.

Al wat mens is uit die stad is daar… elke nou en dan herinner ‘n motoralarm ons aan voorstedelike vrese…

Ons hoor van iemand dat ‘n pragtige gastehuisie opi strand vra R650/persoon/nag…

Met die wegry… ry ons eers ‘n draai deur die dorp… tot in Warrelklipstraat waar ek lank terug se lekker-kuier onthou…

Later die middag ry ons uit Dwarskersbos oor die wit bruggie… die son trek water… ‘n pa-figuur en 2 kinders laat klippies hop op die water en hier en daar staan vissermanne nog hoopvol rond.

Dwarskersbos, Laaiplek, Velddrif, Stompneusbaai, St Helena… met die laaste goue flikkerrandjie oor om die wolke … Tafelberg misterieus uitgewas van kleur… ‘n amper silhoĆ«et, met sagte mislyne… ry ons die Kaap weer binne…

Sunday, March 14, 2010

Woordfees: nog hoogtepunte...











Amanda Botha doen 'n rondleiding in die Rupert Museum in Stellenbosch... sy hou ons aandag met allerlei staaltjies en stories oor die 4 kunstenaars (Irma Stern, Maggie Laubscher, Jean Welz en Cecil Higgs) onder bespreking.
Sy vertel oa dat Irma Stern vrou alleen in 'n Ford motortjie gereis het in Afrika... na onder meer die Belgiese Kongo en Zanzibar... In Zanzibar bevriend sy die sultan! ...en gaan tuis in die sultan se paleis wat op die see gelee was... hier had sy haar eie verblyfkwartiere en ook huisvroue wat haar oa help met aan en uittrek!
Ons kry ook die 'Granaatverkoper' te siene wat 'n hele paar miljoen rand werd is.

Die 'Oopmond Poetry Slam' was 'n baie interesante belewenis... 2 spanne digters van 2 in 'n span ding mee teen mekaar... 1 uit elke groep kry 'n tema uit die gehoor en moet binne 10 min 'n splinternuwe gedig skryf... intussen lees die ander - na 'n tema weereens uit die gehoor - gedigte uit hul digbundels... telkens gee die gehoor punte. Wanneer die digters hul splinternuwe - binne 10min geskryfde gedigte - voorlees... is daar 2 spanne van 2 elk musikante wat dan 2 van die 4 nuwe gedigte kies en binne 20 min moet hul dan 'n song maak hiervan! Die eindresultaat was die mees amazingste liedjies... om die digters se gesigte dop te hou wat pas die nuwe gedig geskryf het... terwyl hul dan luister na hierdie pas getoonsette lied daarvan ... was 'priceless'!

Dave Pepler gesels oor die stories wat hy geskryf het in die boek "Immergroen"... Hy geniet die esoteriese kyk na 'n ding... 'n vreemde kyk na 'n gewone ding... Hy se^ dat hy probeer wegbeweeg van die oppervlakkige; ...almal kan oor 'n tafeldoek praat... maar as dit 'n kleed word... verander dinge...
Hy geniet die verwysing van Hennie Aucamp na die nuwe litere^re genre; "Dokumente^re lirisme"...
Sy stories in die Immergroen-boek... word beskryf as 'n 'stil mymering met 'n besing van die kultuur om die plant/blom'...
Hy vertel ook van tantes in sy ouma se tyd... wat as die ke^rels kom kuier... dan gaan le^ hul 'n rukkie - so lank hul kan uithou - in vuurwarm water ... en dan as die ke^rels in aantog is... hardloop hul en gaan le^ kaal tussen die viooltjies.... hy verbeel hom dat dit die mees fantastiese parfuum moes gewees het!
Hy vertel ook van sy nuutste obsessie met geur... en die moontlike werk wat hy saammet Etienne de Swart - 'n alternatiewe parfumeteur in Parys - wil doen...

Daniel Hugo gesels met Hennie Aucamp in die Protea Boekehuis in Stellenbosch oor sy nuutste boek, "In die huis van die digter"...
...'If poetry do not arrive as leaves on a tree it should not arrive at all' ... Yeats

Tuesday, March 09, 2010

Woordfees en Dylan Lewis







Tydens die week van die Woordfees open Dylan Lewis se uitstalruimte in die middel van Stellenbosch... net in grootte beindruk sy werke onmiddelik... daarna hou hul jou aandag vir lank nadat jy reeds weg is...
Daar is 'n vloei in sy werk van die dier na die mensfiguur...

"Outcroppings of rock appear to me as the works of a mad, passionate sculptor-God"
Dylan Lewis

"There are unknown forces in nature, when we give ourselves wholly to her, without reserve, she lends them to us; she shows us these forms, which our watching eyes do not see, which our intelligence does not understand or suspect"
Auguste Rodin

Woordfees: Kuns












... die kuns die jaar op die Woordfees was baie indrukwekkend...

Heel bo 'n gesig deur Cobus van Bosch... deel van 'n reeks gesigte verweef met 'n klomp landskappe...

Tweede van bo... wys Ingrid Winterbach ook haar diversiteit... ook as visuele kunstenaar...

Die stoel is deel van 'n uitstalling wat 'n gesprek tussen 2 kunstenaars voorstel...

Paul Emsley betower ook met ongelooflike houtskool werke!!

Woordfees: Apostroof van Fanie Olivier



Woensdagaand laasweek gesels Joan Hambidge met Fanie Olivier in die Erfurthuis in Stellenbosch...

Fanie Olivier se 1ste digbundel, na 'n stilte van 21jr, het pas verskyn. Getiteld; "Apostroof. Hy het jare gelede gedebutteer met 'n bundel verse, "Gom uit die sipres" ... wat Joan Hambidge grootliks aanskryf...

Fanie was in 2006 verbonde aan 'n Poolse universiteit ... doseer oa Afrika-kunde... toe sy geliefde vrou, Rike, siek raak en hul terugkom SA toe.
In 2007 sterf sy.

Van die verse in "Apostroof" is geskryf voor Rike se dood en heelwat daarvan daarna... as 'n soort verwering teen die emosionele... Die idee was net om van hierdie verse vir haar geliefdes aan te stuur... maar eindelik vind die verse wel hul pad na publikasie...
Hy probeer om met die skryf van hierdie verse nie die sentimentele en emosionele voorop te stel nie... maar eerder op 'n slingse manier hiermee om te gaan...

Die agterblad van die bundel is verrassend... glad nie tipies nie... Fanie (wat 'n regsgraad voltooi het) dien 'n aansoek in om tersydestelling van Rike se dood. Fanie en God is die partye... Hierdie geding neem totaal, volgens Fanie, sy eie loop...

"...ek en jy is met mekaar verwoord vertroud."

Sunday, March 07, 2010

Woordfees: Lina Spies

Lina Spies se "Die skyn van tuiskoms"... 'n keur uit haar gedigte word bekendgestel afgelope Dinsdag middag...

Agter ons sit 2 ouer mense ewe ernsig aan die vertel vir 'n vriendin hoe lekker hulle bly in die Paradys ... eindelik maak ek die afleiding dat hul in Paradyskloof bly in Stellenbosch...

...soos die lyne in 'n blaar ...so is Lina se gedigte sensitief vir ons blootgele^.... dit hoor ek, terwyl my man die volgende afleiding gemaak het... die nerwe gee die struktuur en sodoende word die blaar vir ons voorgehou...

Johann de Lange vertel dat in die samestel van hierdie bundel herontdek hy die 'soundtrack' van die gedigte van sy skooljare...

Die bundel word beskryf as 'n distilaat van al die elemente van Lina se onderwerpe van gedigte deur al die jare...

Oor die titel van die bundel, vertel sy; .... as 1 van die min ongetroude vroue wat sy ken wat vir haarself kook... tref 'n bliksemstraal haar net daar in die kombuis met die titel se woorde...

'n Gesprek volg oor die sogenaamde tuiskoms... sy vertel dat sy hipersensitief is vir haar omgewing... vreeslik omgewingsbewus... dat Stellenbosch en Amsterdam van haar geliefde plekke is en dat sy nooit 'n heimwee ervaar het na haar geboorteplek nie... maar het wel goeie herinneringe...
Sy ervaar tydens die aardse bestaan slegs af en toe 'n 'tuis-gevoel'...

In 1971 as 32-jarige debuteer sy... en pas voor haar in 1970 debuteer Sheila Cussons, Antjie Krog, asook 'n her-debuut van Ina Roussouw...

Sy vertel hoe sy haar moes losmaak van haar moeder digter, Elizabeth Eybers...

Agter op die 'Skyn van tuiskoms' skryf Johann de Lange oa die volgende ... "Benewens die verse oor die liefde, reis, godsdiens en 'n verknogtheid aan die aarde en aardse, skryf sy ook oor kuns en gestaltes (dikwels kunstenaars) met wie sy 'n sterk verwantskap voel en in wie se nood sy haar eie kan verreken" ...
Lina is baie gelukkig ook hierdie beskrywing en noem dit " 'n genademoment"...

In die gedig "Tafelgebed" ... verwys sy... "dat ek op sy weergalose aarde, van die lewe onversadig bly" ... sy se^ dat sy soveel aan die lewe het... dat dit die bitter en die pyn is wat die vreugde en die lekker uitbring...

"...ek het gekom dat julle die lewe kan he^ ... en dit in oorvloed..."

Wednesday, March 03, 2010

Woordfees: Marie Stander en Carina Stander

uitnooikaartjie van die internet

By 'n uitstalling van Marie Stander se houtskool tekeninge van die mense wat om haar bly in Jamestown... vang hierdie ene van die dogtertjie met die protea my aandag (agv my onlangse sensitiwiteit vir proteas nadat ek self een geverf het..) ...

Elkeen van die mens-tekeninge het 'n ander digter wat daarlangs 'n vers maak ...

Langs hierdie meisie met die protea is een van my gunsteling digters, Carina Stander se woorde:

Seenwens vir Sherryne Willemse

Vir jou met die fynbosvingers
wat woon aan die dorp se voetenent
sesjaarkind met die oe wat skrefiefrons
teen die branding van die son
Vir jou van die opslaanhuis
teken ek vandag 'n blou tuinhek met krulle
wat oop maak op 'n plek wat ruik na pannekoek,
speelmaats, fluite, vetkryt en 'n eie prenteboek.

Steur jou nie aan die ou ghwar wat naweek dikstem maak
of die pesterige seuns wat tog so rou kan raak
Vergeet die vinnige vuiste en die briekaandraai,
die stoepstories oor mense wat mekaar befoenkfaai.

Want somskere, soms kom 'n seen
half uit die bloute nes die reen.
Dan word die aarde oornag sag,
die berge bont, die stingels sterk,
die rankers 'n groen hekelwerk.
Op sulke dae: droom flink, droom heel,
bind verse aan jou polse vas.
Oes solank proteasaad
in die strale waar jy speel.

Woordfees: Evita se "Kossie Sikelela"


my foto bo en boekfoto van die internet


In die voorportaal van die HB Thom teater stel Evita Bezuidenhout gistermiddag haar kookboek bekend... baie funky met 'n voorwoord deur Sophia Loren!

Op die verhoog tower 2 chefs van 'Smoke cuisine' resepte op uit die boek... malvapoeding in 'n espresso koppie en 'n lieflike Peking-eend...

Evita vertel dat daar 'n bobotie resep in haar boek is waarmee jy vyande kan opsluit mee... wanneer jy terugkom sal hul vriende wees!

Evita glo absoluut aan rekonsiliasie deur kos...

Die boek is 'n 'moet-he^' ... met klompe lieflike fotos... natuurlik ook van die tannie... en die buiteblad lewer 'n verrassing op ... deurdat jy hom heeltemal kan afhaal en oop vou in 'n groot poster!

Tuesday, March 02, 2010

Woordfees: Stef Bos


foto van die internet verkry

Gisteraand beleef ons weer 'n Stef Bos vertoning... op 'n pragtige wynlandgoed, Stellenrust...

Hy betower die gehoor met sy woorde en die passievolle oordra van sy liefde vir veral die Afrikaanse woord en ook vir die land...

'n Nuwe CD, "Kloofstraat" word bekendgestel...

"Ek het die deur geopen
ek het jou binne gelaat
en ek het met my verbeelding
die we^reld mooier gemaak"

Woordfees: Karin Brynard


fotos van die internet verkry
Gaan luister gister die praatjie van Deon Meyer met die skrywer van "Plaasmoord", Karin Brynard... Dit is haar debut roman en na net 'n paar maande alreeds in sy 3de druk!... die boek het reeds meer as 6x soveel verkoop as 'n gewone 1ste roman!
Ons hoor van Koffiefontein waar Karin gebore is en dat sy later in Postmansburg geland het... Dat sy eindelik aktrise wou word... maar dat 'n BA tale haar pad was... hoe sy die enigste vrou tussen 'n klomp tokkelokke Grieks geneem het... en dan eindelik beland het as joernalis by 'n koerant uit eie keuse tussen die ware goeters... die politiek en die moord en doodslag... die "mannegoed".
7 jaar verloop van die idee aan die boek... tot vandag... die boek al 'n paar maande op die rakke...
Sy is versot op raaisels en volgens haar kan sy net 'n storie vertel as daar 'n lyk in is...