Saturday, December 25, 2010

Dis Kersfees...



My geliefde en ek wens in hierdie Kerstyd vir jou 'n gewaarwording van die grootsheid van hierdie herdenking...

Thursday, December 02, 2010

Dis alweer sulke tyd...

Waar is die tyd heen... daardie laerskool dogtertjie van toendertyd wat nog steeds binne my lewe... word vandag 'n volle 41!! ...

Druk
die dag sag
Tussen die nawel
en die vlammende
rooi kroon
breek die duisende
klein harte
van die son
lag
die son
deur jou vingers

- woorde van Jan de Bruyn (effe aangepas)

Sunday, November 21, 2010

SkinnyLaminx











Heather Moore (alias 'SkinnyLaminx') jy maak baie mooi!! ...het hierdie kunstenaar se ope dag by haar studio in Buitengracht straat BAIE geniet...
Sy trek na 'n nuwe uitstalruimte en open komende Woensdag daar! ... gaan loer bietjie by www.skinnylaminx.com

Saturday, October 23, 2010

Reise met die Beminde











Afgelope Saterdag open 'Reise met die Beminde', 'n kunsuitstalling in die Breytenbach Sentrum in Wellington met skilderye wat jou dink en jou voel prikkel, deur Marriana Booyens en absolute sensitiewe fotografie deur Henk Venter...

Oral tussen die kunswerke hang gedigte deur Marriana uit die dak;

Genade op die pad

Hoe ver het jy gegaan
om jou hart te verloor?

Hoe ver moes jy reis
om dit alles
weer terug te kry?

-Marriana Booyens

Sunday, September 19, 2010

gehekelde hartjies







...die hekel-gogga is steeds aan die byt... en na die hekel van 3 harte... word hul geskenk-sleutelhouers vir 3 vriende wat oorsee gaan reis...

Wednesday, September 15, 2010

woorde..

“Sou iemand vir my vra: As jy vir die res van jou lewe met een boek op ‘n eiland moet sit, watter een gaan jy kies? Oor hierdie vraag hoef en nie eens tweekeer te dink nie. Vergeet maar van Shakespeare of Tolstoy.Ek sal beslis vir ure, ja,vir die res van my lewe lank met Leon de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans in ‘n palmboom se skaduwee sit terwyl ek die dolfyne dophou en met my wysvinger versies in die nat sand skryf.” ...so skryf Philip de Vos op Versindaba se website! ...
Sien uit na die opkomende Versindaba nou Vrydag en Saterdag...

Sunday, August 29, 2010

'n Dagreis...







Stoppelbaardbome sonder blare wat hier-hier staan teen die hange aan die annerkant van die tonnel... Die mis hang laag oor die boonste bergtoppe soos watte bly dit klou ... al word die wegtrek dun... 'n Waterval in 'n klofie oorgroei met bome...
'n Huisie, al-een, in 'n vallei met die son wat daaroor breek en oor die klipperige stuk-stuk groen berghang agter hom...
Vir oomblikke stroom die son ook deur die motorruit en ek skryf skrefiesoe oor hoe dit my agterlaat, wanneer dit weer wegskuif agter mis en reendruppels liggies teen die voorruit val.
Die Goudini-Spa woord met klip gepak... 'n litteken teen die koppie gaan stadig links verby.
Die Saterdag Burger steel my aandag en vang my vas in geweld, politiek, die alledaagse...
In die Kogmanskloof wag die Old English Port ons in en verwelkom ons in Montagu... berge reg om jou... omsluit... met punte ruwe rotsklip wat almal in vormasie deursteek deur die groen teen die hange aan...
Montagu se village market lok ons nader... en verlei ons met soet, bloedrooi aarbeie in strooisuiker, pannekoek en springbokpastei... later ... ondertoe in Badstraat gaan kry ons varsgestopte wors en kurkdroe sagte droewors... waarmee ons weer in die stad vir 'n tyd kan uitkom...
By Die Stal gaan drink ons die plaas-stilte in... tot diep binne... ons eet tripple dekker plaasbrood met hoender en gerookte ham... drink gulsig van hul vars perskesap... en koop botteltjies vol grenadella marmalade...
Boordvol bloeiselbome lei ons terug die Kogmanskloof in...
Net voor Ashton neem die R60 ons links na Bonnievale... 'n wingerd en-route wys skugter geel-groen blaartjies ... net-net loer hul uit sluimerende wingerdlote...
Bonnievale: ...vol leivore met donker water gevulde belofte glinster skalks...
Parmalat kaas en die Wyn boetiek is reeds gesluit... die Spar lewer wel de Hoek heuning op - pynlik presies organies verbou deur 'n Switser wat in die omgewing boer...

Saturday, August 28, 2010

om te hekel...


... die kreatiewe het altyd 'n manier om 'n weg te vind na my hart en vandaar moet dit gevier word... die dat die gehekelde teemus in 'n tydskrif nou die dag my aandag trek... tot so 'n mate dat ek, ongeletterde hekelaar... myself dae daarna bevind met 'n hekelpen en wol in die hand... en die glimlag van 'n kreatiewe uitdaging op my mond :) ... die eindresultaat... die bewysstuk van kreatiewe bevrediging... wel, in die foto hierbo...

Wednesday, August 18, 2010

Visi 50 top ontwerpe

Gaan komende naweek die uitstalling van VISI se top 50 ontwerpe oor die afgelope 12jr bekyk by die iart-gallery in Loopstraat... kan nie wag nie!

Sunday, August 15, 2010

'n Gateau!...


Het vandag 'n aarbei en room gateau gemaak! ... mmhh... was heerlik... net soos die lekker kuier wat saammet dit gegaan het...

Hanna Hoekom...

'n Heerlike ligte kunsfliek in Afrikaans!! ... 'n Onkonvensionele familie gaan hou vakansie in die berge... Manna 'n kunstenares kry lank terug lus vir kinders en haar gay pel help uit... so ontstaan Hanna... later het sy nog 'n baba deur middel van spermdonor... dan ontmoet sy vir Beyers met sy seun by 'n aktrise.. saam het hul dan ook 'n seun (dis nou as ek die familie reg verstaan!) ... die hele kaboedel kuier saammet Hanna se pa en Beyers se seun se aktrise ma in die berge... waar hul vir 'n rukkie 'vasgereen' is in 'n baie eenvoudige huisie... Alles 'n resep vir 'n lekker kyk storie...

Wednesday, August 11, 2010

Fees van boeke in die Kaap











... 'n mengelmoes gemaal van mense nou die Saterdag en Sondag (1 dag was net te kort vir die omvangryke ervaring) in die KIKS ini Kaap... en die rede.... boeke en nogmaals boeke... lekker!

Prentjies hierbo van van die boeke wat ons nie kon weerstaan nie... en natuurlik was daar die eerstehandse ervarings van die skrywers self...

Jeanne Goosen wat vertel van haar intieme ondervindinge met plante... en dat hul inderdaad kan praat... so het viooltjies al vir haar vertel hoe baie hul hou van geriffelde vensters... en van huisgodsdiens en van musiek... maar defnitief nie van die TV nie.

Andries Bezuidenhout meen dat die welgesteldes sal altyd toeriste wees... die armes is die wat die aarde be-erwe... Hy wens ook dat mense meer interesant sal wees as om net hul stereotipes uitteleef...
Carina en Daniel Hugo gesels oor Daniel se vertaling van Jan Terlouw se boek "Koning van Katoren" ... en maak jou so nuuskierig oor hierdie sprokie van 'n storie...

Tuesday, August 10, 2010

In die Badenvallei vind ons vlugtig rus







... net die wind en die roer van die blare teen mekaar en soms 'n vae insekgeluid... 'n hond blaf in die verte... ek sit op 'n rotstuin klip tussen 3 tuintjies van klip... sappige vetplantblare... 'n skelpienk reuse vygie... klompe pers blommetjies... oranje-peul-kelkies op lang stingels... groen aalwynblare wat uitmond in rooi punte - die we^reld vol... stewige stingels vanuit die grond met donker pers-swart vetplantrose gedrapeer rondom... knoetserige liggroen-geel blare wat wil-wil pienk skyn... die groen wat deurskyn waar die son dit van agter verlig... vinger-vetplantblare rank oor die tuin van klip...

Monday, June 28, 2010

Walking the Road




Ek deel graag hierdie 'gelooflike' projek waarvan ek onlangs gehoor het... www.walkingtheroad.com
En om meer te vertel... stel ek Marieke Prinsloo self aan die woord:
"I have been working towards completing my Masters Degree in Fine Art focusing on Public Art (at WITS) and am delighted to have this opportunity to do a live experiment with the basic tenets of my thesis. The title of my study is"Contemporary Stagings of the Tableau Vivant" and considers using narrative as a way of inspiring dialogue between us as the public and a public art piece.

It is a great privilege to tell this story to my fellow South Africans as a homage to all who in their daily civilian life make the choice to "Walk the Road" and in so doing build a nation that is able to fly.
The Little Girl in my fable-like interpretation thus represents a young South African democracy and the Dragonfly visualises a dream of freedom, equality and hope that we as a nation persue.

On a personal level, it is also a reminder to each of us of the hope that we individually live for and of the dreams that mark our lives, our own story.
The 18 sculptures are to be on the Promenade for twelve months and will be removed again in June 2011.

Walking the Road is set in place with the permission of the Sea Point Ward Council and Sub Committees. It is something of a pilot project towards a more detailed Public Art Policy for the City of Cape Town with the hope that there will be more Public Art to follow in the City at large.

For the project Walking the Road, however, all responsibility for sculptures, installation, maintenance and removal is that of the artist. I am honoured to be sharing this story with you." Marieke Prinsloo-Rowe

Sunday, June 20, 2010

Lucian Freud




In gister se Burger skryf Marie Stander, 'n kunstenaar van Jamestown (net buite Stellenbosch) in die 'Kunskyk' rubriek oor die kunstenaar Lucian Freud.
Marie, wat self 'n fassinasie het met die uitbeelding van mense, vertel dat die werk van Lucian Freud vir haar verruklik is. Die sober emosie en karakter in sy modelle, sy taktiele, amper kru, oorlaaide aanwending van verf het haar ingetrek.

Vir my is dit ook die emosie wat my intrek... asook die onderbeklemtoonde kleure wat hy gebruik en die losheid in sy styl wat saamkom tot 'n uitsonderlike geheel.

Wednesday, June 09, 2010

Oppad na Paternoster...


Afgelope Saterdag kies ons kortpad deur Durbanville se heuwels rigting Paternoster.

Nuutgegroeide gras skyn groen op, deur die ry op ry wingerd waaraan nog net die hardnekkigste herfsblare bly vasklou...
Die son val sag deur miswolke en skitter wild blink op vanuit die klammigheid langs die pad.
Die mistigheid sak laer en laer af... filtreer die son heeltemal uit... bome doem op soos silhoeet-spoke langs die pad en meteens is die lug weer poeierblou en die fynbos kleure flikker van oral om ons... 50 km voor Velddrif... dan raak die lig frons-wit... die spookbome verskyn weer... en die mis kom sweef weer laag om ons...
Suiwer sagte sonlig glip soms deur en die groene word sag, lewendig om 'n koperkleurige plaashek met ryk bruine wat jou lok in die plaas se pad af... 'n Oomblik van balans... ewewigtigheid... vredevolheid... heelheid... vlietend het dit jou deelgemaak.

By die afdraai na Vredenburg kry ek 'n dankie-vir-'n-lekker-aand sms... gisteraand hou ons 'n op die ingewing kunsbesigtiging vir 'n paar vriende wat nog nie Hugo se nuutste beelde te siene gekry het nie.
My 1ste skildery van 'n gesig is ook pas klaar en ek deel ook dit met trots in die vriendelike omgewing...
So met kuns en rooiwyn en sjokolade saam, raak 'n gewone Vrydagaand baie spesiaal...

...deur Vredendal... annerkant uit kom skyn die son plesierig op die geel-groen lande... skape le^ lui, volgevreet... skaars bewus van ons...
Die warmte van die strale stoot ons vinniger en vinniger oor die bulte en dan is ons daar... links verby "Oep vi Koep" tot by die Stone Fish Studio Art Galley... Hugo laai sy 2 beelde vir die opkomende "Whiskey and Chocolate" uitstalling af...

Onner by die On the Rocks Take Away is ons 'order' 3de na 'n stil paartjie reg langs ons en die ouerige man en vrou daar annerkant wat al lyk soos broer en suster van lank getroud wees...
Net 7min se^ die vriendelike vrou met die harde stem...
Ons sit lui in die wintersonnetjie en trek die sout-see-lug tot diep binne...
Ek skryf geskrifte en my geliefde raak rustig met 'n uitsig oor die ligste-blou see wat branders melancholies uitwerk tot op die lang wit strand.
Die rooidak van die 'Voorstrandt' restaurantjie is hiernaby en van daar le^ 'n ry wit huisies al met die baai saam...

Sunday, May 30, 2010

Ingrid Winterbach




Vorige Saterdagoggend gaan luister ons die gesprek tussen Ronel Vorster en Ingrid Winterbach oor haar nuutste roman, "Die Benederyk", by die Proteaboekwinkel in Stellenbosch.

Ronel gebruik woorde soos meesleurend, meevoerend, meervlakkig... in verband met die roman.

Soektogte, geheime, speurtogte.... maak alles deel uit van die boek.

Volgens Ronel kry Ingrid dit reg om iets wat bekend is te herskryf tot iets vreemds... sy fneuk die leser se verwagting...

Ingrid vertel sy wil nie regtig he^ dat die titel "Die Benederyk" aan enige iets spesifieks gekoppel moet word nie... maar sy bring tog die vergelyk van die skryfproses wat gesien kan word as 'n soort afdaal... 'n gaan haal... 'n 'gevaarlike reis' ... en dan die terugkom en kom wys. Tog is daar vele ander assosiasies wat raakgelees kan word in die boek.

Sy se^ vreemde segswyses inspireer haar... iemand wat so bietjie anders praat as die gewone.

Volgens Ingrid sal die boek vir enige een lekker behoort te wees om te lees... maar dit is wel meervlakkig en "vir die ingewydende is daar ekstra plesier".

Ingrid vertel dat sy nooit gedink het dat sy as skrywer bekend sou word nie... sy is as visuele kunstenaar opgelei en het gedag dit is haar 1ste talent ... sy se^ sy voel altyd so bietjie wederregtelik omdat sy nie meer fokus op haar kuns nie.
Sy beoefen wel beide die skryf en skilderkuns... wat sy se^ baie energie neem... dreienerend...

Saturday, May 22, 2010

"Met ander woorde" aand



Ons eerste woorde-aand in 'n laaanng tyd... kompleet met allerhande hoede vir pret en 'n tafeldoek waarop ons mag skryf en teken....
Stadig maar seker het die tonge los en lus geraak vir deel en is eie woorde uitgehaal...
Die aand het beslis my liefde vir woorde weer so 'n hupstoot in die regte rigting kom gee...

Een van die gedigte wat die aand my aandag getrek het...

Parys met Pase

Nou is alle eiers betowerd,
die hase sit die winkelversters vol
en bo dit alles: skitterende sonskyn
oor die koepels en die triomfboe.

Ek staan in die tuin
van die Rodin-museum,
kyk oor sy gebukte denker
tot by die Invalides
waar Napoleon rus in sy praalgraf.

'n Entjie weg verskyn ten oordeel
die ses burgers van Calais,
tou om die nek, met lee oe,
doodsbereid as net hul stad gespaar kan word.

In hierdie lentedae is Parys
my opstanding en hemelvaart,
maagdelike stad, meisie van die Seine,
verkrag op die Place de la Bastille
en wie-weet-waar tot ook by St. Michel
- "Boul' Mich" van die studente, heerlike boulevard-
waar teer gegooi is oor die mooi keistene
sodat niemand weer 'n klip kan optel
vir 'n nuwe revolusie nie.

Lina Spies

Wednesday, May 12, 2010

My man en kuns...











Die groot gedeelde passie tussen my en my geliefde is "alles wat kuns is" ... dus my groot trots op sy afgelope werke...

Die vredes-borde is deel van 'n uitstalling op die oomblik by die ArtB-gallery in Bellville... sy borde is die een met die man met die vlerke... die gasmasker waaruit 'n plantjie groei ... en die seuntjie met die kam in sy hare...

Die beelde van die man en vrou figure is vir 'n uitstalling, "Whiskey and chocolate", in Junie in Paternoster by die ateljee van Dianne Heesom.