Friday, July 10, 2009

glimlag gedigte

Penelope 'looking out for miracles'

Vind hierdie volgende 2 gedigte op Versindaba.co.za vanoggend... ek kon nie help om te glimlag na die lees van hulle nie!... beide is deur Hennie Aucamp:

Die eensame wasgoedpennetjie

Dertien wasgoedpennetjies
sit op ‘n wasgoeddraad,
een van die wasgoedpennetjies
is sonder lewensmaat.

Hy treur en sug maar skielik
wip ‘n sprinkaan op die draad.
“Ook ek,” sê juffrou Sprinkaan,
“is sonder lewensmaat.

“Ek kan nie altyd by jou sit nie,
ek moet tog vlieg en eet,
maar as ek op ‘n toer is,
mag jy my nooit vergeet.”

Nou sit die eenkant pennetjie
gelukkig en verloof,
en raai, sy sprinkaan-nooientjie
het hom ‘n blaar beloof.

Sonnet vir Topsi Venter

Die kleureoordaad van ‘n najaar
vind sy weg na haar altaar,
‘n skoon geskropte tafel waarop geel
en knaloranje smeul:

‘n mandjie kwepers, ‘n boerpampoen,
en as ‘n skerp aksent, die vermiljoen
van bessies, en bruin, vol klossies aarde,
bospaddastoele, en prei met bleekwit baarde.

Uit elke kleur damp reeds ‘n geur,
maar alchemié móét nog gebeur
in pot en pan, bo vlam en vuur,
hoe lank ómtowering ook mag duur.

Die priesteres staan stil opsy:
weer is ‘n dis volmaak berei.

2 comments:

My Kop Op 'n Blok! said...

Ek hou van jou blog en sal weer kom loer! Ek hang ook nogal graag uit op Versindaba. Ek probeer om elke Dinsdagaand op RSG na Vers en Klank te luister en dit ook op te neem. Ek was so gelukkig om 'n program van Hennie Aucamp op te neem waarin hy van sy gedigte wat getoonset is voorgelees en die musiek daarna gespeel het. (My blog was eers by blogspot, ek is nie meer seker of dit nog redirect na my huidige blog nie, dis by mykopop wordpress com

Liezl said...

Dankie dat jy die tyd geneem het om 'n inskrywing op my blog te maak!! Ek het 'n bietjie gaan verken op 'mykopop' en dit baie geniet!