Wednesday, June 09, 2010

Oppad na Paternoster...


Afgelope Saterdag kies ons kortpad deur Durbanville se heuwels rigting Paternoster.

Nuutgegroeide gras skyn groen op, deur die ry op ry wingerd waaraan nog net die hardnekkigste herfsblare bly vasklou...
Die son val sag deur miswolke en skitter wild blink op vanuit die klammigheid langs die pad.
Die mistigheid sak laer en laer af... filtreer die son heeltemal uit... bome doem op soos silhoeet-spoke langs die pad en meteens is die lug weer poeierblou en die fynbos kleure flikker van oral om ons... 50 km voor Velddrif... dan raak die lig frons-wit... die spookbome verskyn weer... en die mis kom sweef weer laag om ons...
Suiwer sagte sonlig glip soms deur en die groene word sag, lewendig om 'n koperkleurige plaashek met ryk bruine wat jou lok in die plaas se pad af... 'n Oomblik van balans... ewewigtigheid... vredevolheid... heelheid... vlietend het dit jou deelgemaak.

By die afdraai na Vredenburg kry ek 'n dankie-vir-'n-lekker-aand sms... gisteraand hou ons 'n op die ingewing kunsbesigtiging vir 'n paar vriende wat nog nie Hugo se nuutste beelde te siene gekry het nie.
My 1ste skildery van 'n gesig is ook pas klaar en ek deel ook dit met trots in die vriendelike omgewing...
So met kuns en rooiwyn en sjokolade saam, raak 'n gewone Vrydagaand baie spesiaal...

...deur Vredendal... annerkant uit kom skyn die son plesierig op die geel-groen lande... skape le^ lui, volgevreet... skaars bewus van ons...
Die warmte van die strale stoot ons vinniger en vinniger oor die bulte en dan is ons daar... links verby "Oep vi Koep" tot by die Stone Fish Studio Art Galley... Hugo laai sy 2 beelde vir die opkomende "Whiskey and Chocolate" uitstalling af...

Onner by die On the Rocks Take Away is ons 'order' 3de na 'n stil paartjie reg langs ons en die ouerige man en vrou daar annerkant wat al lyk soos broer en suster van lank getroud wees...
Net 7min se^ die vriendelike vrou met die harde stem...
Ons sit lui in die wintersonnetjie en trek die sout-see-lug tot diep binne...
Ek skryf geskrifte en my geliefde raak rustig met 'n uitsig oor die ligste-blou see wat branders melancholies uitwerk tot op die lang wit strand.
Die rooidak van die 'Voorstrandt' restaurantjie is hiernaby en van daar le^ 'n ry wit huisies al met die baai saam...

1 comment:

Hugo said...

Dis pragtig, my pragtig!