Sunday, August 29, 2010

'n Dagreis...







Stoppelbaardbome sonder blare wat hier-hier staan teen die hange aan die annerkant van die tonnel... Die mis hang laag oor die boonste bergtoppe soos watte bly dit klou ... al word die wegtrek dun... 'n Waterval in 'n klofie oorgroei met bome...
'n Huisie, al-een, in 'n vallei met die son wat daaroor breek en oor die klipperige stuk-stuk groen berghang agter hom...
Vir oomblikke stroom die son ook deur die motorruit en ek skryf skrefiesoe oor hoe dit my agterlaat, wanneer dit weer wegskuif agter mis en reendruppels liggies teen die voorruit val.
Die Goudini-Spa woord met klip gepak... 'n litteken teen die koppie gaan stadig links verby.
Die Saterdag Burger steel my aandag en vang my vas in geweld, politiek, die alledaagse...
In die Kogmanskloof wag die Old English Port ons in en verwelkom ons in Montagu... berge reg om jou... omsluit... met punte ruwe rotsklip wat almal in vormasie deursteek deur die groen teen die hange aan...
Montagu se village market lok ons nader... en verlei ons met soet, bloedrooi aarbeie in strooisuiker, pannekoek en springbokpastei... later ... ondertoe in Badstraat gaan kry ons varsgestopte wors en kurkdroe sagte droewors... waarmee ons weer in die stad vir 'n tyd kan uitkom...
By Die Stal gaan drink ons die plaas-stilte in... tot diep binne... ons eet tripple dekker plaasbrood met hoender en gerookte ham... drink gulsig van hul vars perskesap... en koop botteltjies vol grenadella marmalade...
Boordvol bloeiselbome lei ons terug die Kogmanskloof in...
Net voor Ashton neem die R60 ons links na Bonnievale... 'n wingerd en-route wys skugter geel-groen blaartjies ... net-net loer hul uit sluimerende wingerdlote...
Bonnievale: ...vol leivore met donker water gevulde belofte glinster skalks...
Parmalat kaas en die Wyn boetiek is reeds gesluit... die Spar lewer wel de Hoek heuning op - pynlik presies organies verbou deur 'n Switser wat in die omgewing boer...

Saturday, August 28, 2010

om te hekel...


... die kreatiewe het altyd 'n manier om 'n weg te vind na my hart en vandaar moet dit gevier word... die dat die gehekelde teemus in 'n tydskrif nou die dag my aandag trek... tot so 'n mate dat ek, ongeletterde hekelaar... myself dae daarna bevind met 'n hekelpen en wol in die hand... en die glimlag van 'n kreatiewe uitdaging op my mond :) ... die eindresultaat... die bewysstuk van kreatiewe bevrediging... wel, in die foto hierbo...

Wednesday, August 18, 2010

Visi 50 top ontwerpe

Gaan komende naweek die uitstalling van VISI se top 50 ontwerpe oor die afgelope 12jr bekyk by die iart-gallery in Loopstraat... kan nie wag nie!

Sunday, August 15, 2010

'n Gateau!...


Het vandag 'n aarbei en room gateau gemaak! ... mmhh... was heerlik... net soos die lekker kuier wat saammet dit gegaan het...

Hanna Hoekom...

'n Heerlike ligte kunsfliek in Afrikaans!! ... 'n Onkonvensionele familie gaan hou vakansie in die berge... Manna 'n kunstenares kry lank terug lus vir kinders en haar gay pel help uit... so ontstaan Hanna... later het sy nog 'n baba deur middel van spermdonor... dan ontmoet sy vir Beyers met sy seun by 'n aktrise.. saam het hul dan ook 'n seun (dis nou as ek die familie reg verstaan!) ... die hele kaboedel kuier saammet Hanna se pa en Beyers se seun se aktrise ma in die berge... waar hul vir 'n rukkie 'vasgereen' is in 'n baie eenvoudige huisie... Alles 'n resep vir 'n lekker kyk storie...

Wednesday, August 11, 2010

Fees van boeke in die Kaap











... 'n mengelmoes gemaal van mense nou die Saterdag en Sondag (1 dag was net te kort vir die omvangryke ervaring) in die KIKS ini Kaap... en die rede.... boeke en nogmaals boeke... lekker!

Prentjies hierbo van van die boeke wat ons nie kon weerstaan nie... en natuurlik was daar die eerstehandse ervarings van die skrywers self...

Jeanne Goosen wat vertel van haar intieme ondervindinge met plante... en dat hul inderdaad kan praat... so het viooltjies al vir haar vertel hoe baie hul hou van geriffelde vensters... en van huisgodsdiens en van musiek... maar defnitief nie van die TV nie.

Andries Bezuidenhout meen dat die welgesteldes sal altyd toeriste wees... die armes is die wat die aarde be-erwe... Hy wens ook dat mense meer interesant sal wees as om net hul stereotipes uitteleef...
Carina en Daniel Hugo gesels oor Daniel se vertaling van Jan Terlouw se boek "Koning van Katoren" ... en maak jou so nuuskierig oor hierdie sprokie van 'n storie...

Tuesday, August 10, 2010

In die Badenvallei vind ons vlugtig rus







... net die wind en die roer van die blare teen mekaar en soms 'n vae insekgeluid... 'n hond blaf in die verte... ek sit op 'n rotstuin klip tussen 3 tuintjies van klip... sappige vetplantblare... 'n skelpienk reuse vygie... klompe pers blommetjies... oranje-peul-kelkies op lang stingels... groen aalwynblare wat uitmond in rooi punte - die we^reld vol... stewige stingels vanuit die grond met donker pers-swart vetplantrose gedrapeer rondom... knoetserige liggroen-geel blare wat wil-wil pienk skyn... die groen wat deurskyn waar die son dit van agter verlig... vinger-vetplantblare rank oor die tuin van klip...