Saturday, May 12, 2012

"Wat die hart van vol is"

Verlede Saterdagoggend besoek ons weer 'n slag die Proteaboek winkel in Stellenbosch vir hul gebruiklike 11h boekpraatjie.  Francis Galoway gesels met Evette Weyers oor haar pasgepubliseerde boek, "Wat die hart van vol is..."

Louis Esterhuizen (die bestuurder van die boekwinkel, sowel as befaamde digter) stel die gespreksgenote aan die woord en se^ dat Evette het een van die mooiste eienskappe wat 'n mens kan he^; 'n konstante volgehoue verwondering met die lewe...  Sy vier die lewe!

Francis Galoway beskryf hierdie nuwe boek van Evette as 'n mengsel van dag en nag notas... vol avontuurlike verkennings... 'n kunstenaarscredo... 'n rondleiding van Evette se werkslewe...

Die gesprek handel oor verskeie van die temas in Evette se werke.  Oor bome. Sy vertel van die wilde seringboom wat jare terug buite Marius (haar man) se kothuisie gegroei het en hoe sy aan die einde van 'n dag 'in die dalende skemerte' met die wildesering gesels het oor wat haar die dag geraak of besiel het.  Sy se^ 'die sering het met die stille wysheid van bome geluister'.

Sy vertel ook van 'n  ongelooflike ervaring van toe sy as 11-jarige saammet 'n vriendin een middag op haar oupa se plaas in die Vrystaat gaan stap het.  Hulle het ver weggedwaal van die huis en afgekom op 'n vrugteboord, wat oor die dekades heen heeltemal wild gegroei het.  Die bome was vir lank nie gesnoei nie, die blare vir jare nie opgevee nie en die vrugte nie gepluk nie.  'Die takke het bo geil gegroei en 'n donker woud gevorm.  Alles in hierdie boord was ryp'.  Sy het gewonder of sy verdwaal en per ongeluk in die paradys beland het!  Sy het geloop op 'n trampolien van blare en groot sappige waterpere het swaar aan die takke gehang.  'n Ligte wind het deur die woud gewaai en van die oorryp waterpere het geval en oopgespat... hulle soet sap wat in die aarde terugsak.

Sy verbind haar ambisie as kunstenaar met hierdie storie deur te se^ dis 'soos 'n wind wat deur die vergete boorde van jou verbeelding waai, sodat jy jou waterpere hoor val en herinner word aan jou eie verborge kreatiewe en geestelike oorvloed'...

Wind en water is nog inspirasies in haar beelde... sy bly reg langs die see en sy se^ hulle haal baie kos uit die see ... ons word ons omgewing... 'ons lywe bestaan fisiek uit wat hier groei en beweeg... die see praat in ons bloed en ons buitelyne vervaag'.

Evette lees voor uit haar boek

Haar 'trek die stoute skoene aan' beeld, met in die agtergrond haar boek, "Wat die hart van vol is"...

'n 'Sit die regte voetjie' voor beeld van Evette...

Mary se engel, Beloved... ook deur Evette... (uit haar boek)

Hierdie is 'n pragtige kinderboek wat ek by Protea raakloop...

Die illustrasies in "Die land van die groot woordfabriek" is pragtig!

...en dan ry ons huis toe en neem 'n detour deur 'n herfsbelaaide wingerd en bekyk die Stellenbosch berge van daaragter... 

3 comments:

My Kop Op 'n Blok! said...

Ai, hoe gelukkig was julle om Evette self te kon hoor praat! Ek sal nogal graag haar boek wil kry. Ek onthou toe dadelik dat sy ook onlangs op Skrywers en Boeke op RSG gepraat het, en moes eers gou die Potgooi gaan soek en aflaai. Dit was op 3 April, kompleet met die waterpere-storie en al. (Daar kry ek toe sommer op die koop toe iets oor my ander groot liefde: toonsetting van gedigte, 'n onderhoud met klanksnitte van Frieda van den Heever en Lou-Ann Stone.)

Snaaks dat ek hoe langer hoe meer ook in beeldhouwerk belang stel, ek weet regtig nie of ek dit ook nog moet probeer nie - miskien net een keer, een ou klein beeldjie!

Ek het gisteraand ook 'n stukkie geplaas oor die fantastiese Gerard de Leeuw uitstalling op die oomblik by die UJ Kunsgalery.

Liezl said...

Dankie vir die lekker lees opmerking... Ja, beeldhouwerk lê ook na aan my en my man se harte - hy maak graag beelde - op die oomblik maak hy sement beelde - 1/4 grootte van die werklikheid. Ek sal defnitief jou post oor die Gerard de Leeuw uitstalling met groot belangstelling gaan bekyk!
Jy is welkom om as jy 'n Kaapse draai maak, hier by ons 'n beeldjie te kom maak!