Wednesday, March 31, 2010

Weskus ervaring..


… nou die dag in Laaiplek kuier ons die oggend in die Pharos kafee…
oral is daar tekens van ‘n liefde vir woorde… ‘n boekrak met van die nuutste publikasies… oa Plaasmoord van Karin Brynard (waaraan ek op die oomblik lees)… ‘n hele paar publikasies van “Die Kakkerlak”, ‘n wonderlike publikasie vir boek- en woordmense... ook ‘n hele paar uitgawes van die Boeke-Insig…

Op die onderste vlak van ‘n lae kuiertafel sien ek die Rapport se boeke-deel uitsteek… Hier vind ek… ‘n onderhoud met Fanie Olivier oor sy bundel, “Apostroof”, ‘n aangrypende kort vertelling deur Welma Odendaal en nog baie ander lusmaker-artikels… Louise van die Pharos kafee is so vriendelik om dit vir my te gee vir later se volledig lees!

Ons besluit om uit te ry Paternoster se kant toe.

Oppad … plaas opstal geboue wat oopstaan… die Uitkomsboerdery… vol aktiwiteit… beeste met koppe wat herinner aan Nicolene Swanepoel kunswerke. Die bewolkheid en die monotoon kleur maak ‘n Niel Jonker atmosfeer…
Op ‘n pasgekoopte CD sing Laurika… “…vir ons ‘n kaalvoetsong met woorde soos die sand en kommas soos die klippies wat my kaalvoetsole brand”

Bay Watch Villa se goudgeel bord gaan regs verby… en vertel ons is amper in Paternoster…

In “Oep-vi-Koep” ruik die mans na stadsparfuum…

…buite sing 5 kindertjies vir ons ‘n sonskyn liedjie oor Paternoster en terwyl ons ‘n geldjie soek… trek hul weg met Vader Jakob… oomblikke vol mooi …

Onder by ‘On the Rocks’ wegneemetes is ons nr5… en moet ons wag tot die getalle by 30 gaan draai om weer by 1 te begin… Ons eet gulsig aan die snoek en slaptjips toe ons beurt kom.

Al wat mens is uit die stad is daar… elke nou en dan herinner ‘n motoralarm ons aan voorstedelike vrese…

Ons hoor van iemand dat ‘n pragtige gastehuisie opi strand vra R650/persoon/nag…

Met die wegry… ry ons eers ‘n draai deur die dorp… tot in Warrelklipstraat waar ek lank terug se lekker-kuier onthou…

Later die middag ry ons uit Dwarskersbos oor die wit bruggie… die son trek water… ‘n pa-figuur en 2 kinders laat klippies hop op die water en hier en daar staan vissermanne nog hoopvol rond.

Dwarskersbos, Laaiplek, Velddrif, Stompneusbaai, St Helena… met die laaste goue flikkerrandjie oor om die wolke … Tafelberg misterieus uitgewas van kleur… ‘n amper silhoëet, met sagte mislyne… ry ons die Kaap weer binne…

4 comments:

My Kop Op 'n Blok! said...

Baie mooi beskrywing van 'n lekker rustige tyd!

Ek wil begin uitkyk vir Fanie Olivier se bundel, nadat ek hom op Leeskring en ek dink 2 keer op Vers en Klank op RSG gehoor het. Dit terwyl ek ook besig is om Laurika se nuwe CD so stadigaan op my te laat groei. So 'n paar weke gelede het ons vakansieplek vir 'n paar dae in Desember bespreek, aan die Weskus, by ... Dwarskersbos!

BoerinBallingskap said...

Maak jy my nou hier, ver in die wereld, lekker jaloers!

Gerrie said...

Ek kan die see ruik en die sagte sand voel, en die wit winkeltjies met hul veelkleurige snuisterye en die toeriste wat almal ietsie soek om terug te vat Kaap toe....
Hier in Engeland het die Yslandse aswolk nou gaan lê en die vliegtuie vlieg weer en die rustige lewe gaan weer sy gang....
Ons lag vir die politici op TV wat die verkiesing wil wen en Engeland weer beter maak....
Paternoster ruk soos 'n vishoek aan my hart en ek verlang na my broers in SA wat so swaar kry al maak hulle geld.....
Jy skryf mooi, baie mooi, en ek huil, en ek verlang...

Liezl said...

Sjoe Gerrie, jy maak mooi met woorde!