Showing posts with label woordfees. Show all posts
Showing posts with label woordfees. Show all posts

Thursday, March 15, 2012

Luna Paige by die afgelope Woordfees




Ons eerste ervaring van hierdie vrou wat baie mooi maak met Afrikaanse woorde en dan boonop het sy ‘n stem wat hierdie woorde behoorlik vlerke gee.

Met ‘Storielied’ bied Luna ‘n besonderse vertoning, wat bestaan uit Afrikaanse liedjies wat sy geskryf het na aanleiding van inspirasie wat sy gekry het uit die lees van bekende Afrikaanse boeke.

‘n Verjaardagpartytjie van Margaret Bakkes waartydens sy gevra is om te sing het die ontstaan van die eerste liedjie vir hierdie vertoning ‘gespark’... ‘Populier, Populier, altyd kom die somer weer’... wat handel oor die natuur en hoe dit genesing bring.

Ingrid Winterbach se ‘Boek van Toeval en Toeverlaat’ ... inspireer ‘n liedjie wat handel oor die worsteling tussen die wetenskap en godsdiens.

In Jeanne Goosen se bundel ‘Straataf’  inspireer die storie  ‘Moord is nie ‘n videospeletjie nie’, ‘n liedjie genaamd ‘Dis lekker aan die anderkant’.

Die sexy Schalk Joubert is uitstekend op sy stylvolle donkerrooi baskitaar... terwyl Kevin Gibson sy ding gedoen het met ‘n lewendige groen stel dromme.  Piet de Beer is op viool en Jenny op tjello.

Van die ander boeke waaruit sy inspirasie put;  ‘Die Ambassadeur’ deur Andre P Brink,  Nicky Pistorius se boek ‘Sorg’ ,  Elias Nel se ‘Iets goed uit Verneukpan’ (‘n oulike liedjie wat gaan oor ... is jy Korhaan of is jy muisvoelman...), Dana Snyman se storie, ‘Ouma se hande’...
“My ouma is ‘n klein klein voeltjie wat uit die boom geval het, sy skuil nou onder bossies... haar hande sag in myne gevou, sodat ek die we^reld buite kan hou”

Sjoe, met haar diep rokerige stem vol energie, maak sy haar woorde-liedjies lewendig vir haar gehoor.

Tuesday, March 06, 2012

Jan Rabie: Immergroen


Afgelope Vrydagoggend aan die begin van die Woordfees trek ek met ‘n vaart weg uit Durbanville en 12h sit ek reg in die Ouditorium van die Gericke Biblioteek om na ‘n gesprek te luister tussen Abraham de Vries en Dave Pepler... oor die immergroen Jan Rabie...

...en was daar gesels!

Van Dave se 1ste ontmoeting met Jan Rabie wat saamgeval het met ‘n besoek deur hom en Hennie Aucamp aan Uys Krige.  Tydens die ontmoeting se^ Dave het hy baie taai seekos geeet deur Jan voorberei, maar ook die heerlikste ‘selei’-jellie gemaak van seebamboesbaard.  So onder die indruk was Dave van hierdie jellie, dat hy volgens Jan se oorspronklike resep weer so ‘n jellie maak en vir ons almal na die gesprek laat proe!

In 1952 ontmoet Abraham vir Jan in die Paarl waar hy rondloop in ‘n jas in die Paarlse somer!
Jan was ‘n hippie is hulle eens... altyd geaard... met ‘n aardgebonde liefde vir Afrikaans. 
“Oral waar Jan was was die aarde en die aardse nie ver nie”.

Hy kon nooit Suid Afrika of Afrikaans uit sy gestel kry nie. Hy was skaamteloos die grootste taal patriot vir Afrikaans wat ek ooit meegemaak het – Abraham.

Ons hoor interesanthede soos dat Onrus sy plant en see straatname van Jan gekry het!

In Chevie Place (dis die naam wat ek hoor) nr.6 waar Jan en Marjorie vir ‘n tydlank bly in Kaapstad is daar gereelde kuiers tussen al die 60’gers.  Jan maak self al die boekrakke en rame vir Marjorie se skilderye.  So verf Marjorie ‘n skildery van ‘n venster met gordyntjies teen die een muur en met een van die kuiers by hulle... kap ‘n kuiergas sy kop ‘n vreeslike hou teen die einste ‘skildery’ toe hy sy kop by ‘n venster wou uitsteek om bietjie vars lug te kry! Die res van die aand bly hy blykbaar net aan die prewel; ‘oh, my head’.

Breyten Breytenbach het in daardie selfde tyd in ‘n woonstel bo-op ‘n kroeg gebly aan die onderkant van Langstraat, saammet ‘n ene Marius.  Hulle het oa ‘n mak spook aan huis gehad, wat vreeslik gelieg het. Tussenvertellings soos hierdie help my met die skep van 'n daardie tydse we^reld en dit help so om Jan en Marjorie beter in hul we^reld te plaas.

Abraham vertel van Jan se mooi stem, wat hy vergelyk met ‘n ‘klein mannetjie wat agterin ‘n grot staan en praat’.

Jan en Marjorie het werklik ‘n aardse lewe gelei. Met die pekel van Jan se 1ste oes olywe val 2 baba katte daarin!  Hulle word gered en die olywe word steeds ingemaak!
Hulle het die see gehad op Onrus... so bad was vir Kerstyd!

Dave en Abraham haal tipiese ‘Jan-sinne’ aan:
“Ons moet die moed he^ om met trots en skaamte te bemin”
“Niks wat goed geleef is, gaan ooit verlore nie”

Uiteindelik na Jan en Marjorie se dood word hul huis in Onrus verkoop met ‘n enkele bordjie voor die huis: “For Sale”.  Hieroor giggel Abraham op sy tipiese manier en se^ hy is verbaas dat Jan nie self daar opgedaag het nie! Dit nou oor die Engelse verkoopteken voor hul huis!

Na die praatjie kry almal ‘n kans om die dokumente in die Jan Rabie-versameling in die Dokumentesentrum van die biblioteek te besigtig.

Die volgende dag gaan kyk ek die fliek, Midnight in Paris... en onwillekeurig wonder ek of ek nie vir twaalfuur moet gaan wag in Onrus of dalk e^rens in die Kaap... en dat ‘n motor uit die sestigers nie dalk vir my sal oppik en wegvoer na ‘n kuier saammet hierdie besonderse woord en kuns mense nie.



'n Welbekende foto van Jan en Marjorie op reis...



Die mense proe almal na die praatjie aan die 'seewier' jellie wat Dave Pepler op Jan se oorspronklike resep gemaak het...



Van die briewe wat Jan en Marjorie vir mekaar geskryf het... in die dokumente sentrum van die biblioteek.

Wednesday, March 03, 2010

Woordfees: Marie Stander en Carina Stander

uitnooikaartjie van die internet

By 'n uitstalling van Marie Stander se houtskool tekeninge van die mense wat om haar bly in Jamestown... vang hierdie ene van die dogtertjie met die protea my aandag (agv my onlangse sensitiwiteit vir proteas nadat ek self een geverf het..) ...

Elkeen van die mens-tekeninge het 'n ander digter wat daarlangs 'n vers maak ...

Langs hierdie meisie met die protea is een van my gunsteling digters, Carina Stander se woorde:

Seenwens vir Sherryne Willemse

Vir jou met die fynbosvingers
wat woon aan die dorp se voetenent
sesjaarkind met die oe wat skrefiefrons
teen die branding van die son
Vir jou van die opslaanhuis
teken ek vandag 'n blou tuinhek met krulle
wat oop maak op 'n plek wat ruik na pannekoek,
speelmaats, fluite, vetkryt en 'n eie prenteboek.

Steur jou nie aan die ou ghwar wat naweek dikstem maak
of die pesterige seuns wat tog so rou kan raak
Vergeet die vinnige vuiste en die briekaandraai,
die stoepstories oor mense wat mekaar befoenkfaai.

Want somskere, soms kom 'n seen
half uit die bloute nes die reen.
Dan word die aarde oornag sag,
die berge bont, die stingels sterk,
die rankers 'n groen hekelwerk.
Op sulke dae: droom flink, droom heel,
bind verse aan jou polse vas.
Oes solank proteasaad
in die strale waar jy speel.