Showing posts with label Carina Stander. Show all posts
Showing posts with label Carina Stander. Show all posts

Wednesday, March 03, 2010

Woordfees: Marie Stander en Carina Stander

uitnooikaartjie van die internet

By 'n uitstalling van Marie Stander se houtskool tekeninge van die mense wat om haar bly in Jamestown... vang hierdie ene van die dogtertjie met die protea my aandag (agv my onlangse sensitiwiteit vir proteas nadat ek self een geverf het..) ...

Elkeen van die mens-tekeninge het 'n ander digter wat daarlangs 'n vers maak ...

Langs hierdie meisie met die protea is een van my gunsteling digters, Carina Stander se woorde:

Seenwens vir Sherryne Willemse

Vir jou met die fynbosvingers
wat woon aan die dorp se voetenent
sesjaarkind met die oe wat skrefiefrons
teen die branding van die son
Vir jou van die opslaanhuis
teken ek vandag 'n blou tuinhek met krulle
wat oop maak op 'n plek wat ruik na pannekoek,
speelmaats, fluite, vetkryt en 'n eie prenteboek.

Steur jou nie aan die ou ghwar wat naweek dikstem maak
of die pesterige seuns wat tog so rou kan raak
Vergeet die vinnige vuiste en die briekaandraai,
die stoepstories oor mense wat mekaar befoenkfaai.

Want somskere, soms kom 'n seen
half uit die bloute nes die reen.
Dan word die aarde oornag sag,
die berge bont, die stingels sterk,
die rankers 'n groen hekelwerk.
Op sulke dae: droom flink, droom heel,
bind verse aan jou polse vas.
Oes solank proteasaad
in die strale waar jy speel.

Wednesday, September 09, 2009

Onder die invloed van woorde

..nog sterk onder die invloed van Carina Stander se woorde.. gisteraand tydens haar 2de digbundel bekendstelling in Cape to Cuba in Langstraat in die Kaap... deel ek die 1ste gedig in haar bundel, "Woud van nege en negentig vlerke":

Om op die rug van 'n donkie in die see te swem
om op die rug van 'n donkie in die see te swem
deur 'n land bo die wolke
oor landskappe van droom
'n pen soos 'n staf in die hand
om bloots op 'n esel oor 'n golf te galop
warrel in die hare
Stormmeeu op die skouer
se vlerk gesprei teen die strale
om saam met 'n hings deur see te ry
voorkop rug voetbrug gesout
teen die brand van blindwit branders
om borsdiep in 'n woord te toer
die walvis 'n inkvlek op blou papier
wanneer die Windmaker se asem
die water stadig roer
om veerlig te dryf
verse te skryf
die son 'n engelkop
vanaf 'n eselrug aanskou
om die heelal en hemel so dop te hou:
laat my reise voortaan eenvoudig wees